Heritage day braai recipe winner

Ons het ter ere van Erfenisdag vanjaar besluit om een van ons gunsteling Suid-Afrikaanse tradisies te vier met ‘n kompetisie – die braai! Ons het smul-lekker resepte ontvang regoor die land, maar die wen resep het ons monde omtrent laat water – Vanessa Willet se Mexicana Kruisbiefstuk wat bedien word met ‘n heerlike romerige butternut gereg, braai broodjies en aartappelslaai.

Het jy ‘n verskoning nodig om vanaand te braai? Hier is hy vir jou, gaan probeer dit gerus by die huis.

Resep:

Mexicana Kruisbiefstuk

Hoe nou gemaak?

Gaan raadpleeg jou naaste slagter vir ‘n ordentlike kruisbiefstuk, niks minder as 900gr nie, hoe swaarder, hoe beter.

Neem die biefstuk en prik dit orals liggies met ‘n vurk, liggies! Moet nie die vetjie vergeet nie, dis die belangrikste.

Neem olyfolie en smeer jou prag kruisstuk deeglik, as dit moet persoonlik raak, doen dit.

Gereedskap:

Krap in jou kas vir ‘n diep bakkie. Trek die houtplank nader en gebruik jou skerpste mes.

Laat die kuns begin:

Smelt ‘n paar eetlepels botter in die bakkie, indien jy gesondheid bewus is, sal olyfolie ook die werk doen.

Neem 1 of 2 (…of 3) groen of rooi rissie na jou smaak en kap dit fyn.

Neem ‘n knoffelhuisie, breek verkieslik een huisie af (as jy nie sensitief is dat mense more dalk ‘n wye draai om jou gaan loop nie, gaan voort en neem 2), en kap dit fyn.

Speserye – kort en kragtig, maar wragtig dis pragtig: Chillie Beef Aromat, Original Aromat, Steak en Chops spice, Barbecue spice en swart peper. Hierdie word gemeet met vrye hand want wie het tyd vir maat lepels by ‘n braai? Gooi als saam in jou gesmelte botter bakkie en pers waar moontlik met ‘n lepel dat die geure mekaar kan ontmoet.

Trek jou prag kruisstuk nader. Smeer jou botter konkoksie deeglik op die biefstuk, Weereens moet nie vergeet van die vet nie, hy wil ook deel wees van die pret.

Strooi liggies sout op die vet. Nie teveel nie, ons braai nie kaiings nie. Kies ‘n plek in die kombuis wat veilig is vir jou kruisstuk en stoor tydelik.

Gaan maak vuur en raak kalm, jou werk is gedoen en jou kuns moet rus.

Wanneer die kole reg is, moet jy ten minste 3 tot 4 tellings jou hand bo die kole kan hou. Moet asseblief nie die rooster op die kole warm hou nie. Die biefstuk sal aanbrand.

Ons almal ken die trappe van vergelyking vanaf rou tot verkool as dit by vleis kom. Die beste om hierdie kruisbiefstuk van die kole te verwyder, is medium tot rou. As jy van verkool hou, kry dan maar liewer vir jou ‘n worsie.

Geniet!